|
ROAD TRIP
k
ry, soos baie ander mense, vyf dae van die week, werk toe. Dis
eintlik so eentonig en voorspelbaar. Elke dag dieselfde roete.
En sien, soos baie ander mense, elke dag iets anders op die ROAD
TRIP, sonder om dit werklik waar te neem. Omdat ek dink, ek ken
dit alles in elk geval. En ek wonder, of dit nie hoog tyd is, om
met ander oë na die wêreld te kyk nie.
Ek ry verby oop, verbrande velde.
En sien heldergroen grashalmpies, wat deur die swart stoppels
ligwaarts groei.
Ek dink daaraan, dat dit al weer die begin van ‘n lente is.
En ek wonder, of die tyd regtig vinniger verbygaan, namate ek
ouer word.
Ek ry verby huise, meestal propvol geboude erwe met ‘meerkatkolonies’.
En sien lemmetjiesdraad, elektriese heinings en ADT borde, wat
veronderstel is om die boewe buite te hou .
Ek dink daaraan, dat mense eintlik in hul eie gevangenisse skuil.
En ek wonder, wie se beurt vir ‘n inbraak of iets dit gister
was.
Ek ry verby voetgangerpaadjies en eindelose strate.
En sien miljoene sigaretstompies en ander gemors, wat die
omgewing en die riwwe tussen die afsonderlike plaveiselstene
versier.
Ek dink daaraan, dat ons net een aarde het om te bewaar – is dit
so moeilik?
En ek wonder hoe moedeloos en hartseer Moeder Natuur al moet
wees.
Ek ry verby ‘n Creche.
En sien ‘n man, wat ‘n jong kind aflaai en sommer oor die hek
tel, na waar die onnie staan en wag.
Ek dink daaraan, dat die gejaag na geld eintlik vieslik is.
En ek wonder, wat van die kindertjies gaan word, wie se ouers
geen tyd vir hulle het nie.
Ek ry verby besige petrolvulstasies.
En sien petroljoggies, wat vra of hulle die bande, water en olie
ook maar kan ‘check’; en mense wat vinnig uit die kar spring om
gou-gou melk te gaan koop, sodat die gesin darem hulle Kellogs
Corn Flakes nie droog hoef te verslind nie.
Ek dink daaraan, dat die samelewing eintlik baie gerieflik deur
die lewe gaan.
En wonder, wat gaan gebeur, as ons Zimbabwe se pad volg.
Ek ry verby ander karre, mense en diere.
En sien padvarke, bedelaars en verlore honde.
Ek dink daaraan, dat ek nie in ‘n ongeluk betrokke was nie, dat
ek geld het om kos te koop en dat my honde veilig tuis is.
En ek wonder hoe die road trip môre gaan eindig.
© Claudia Höpfner –
22 August 2005
 |