|
DIE EINDE
(SHAZA)
y
het met moeite op die agtersitplek van ons blou Jetta geklim. Jy
was sò swak. En toe julle wegry, het ek geweet ek gaan jou nooit
weer sien nie,
‘n Uur later volg die oproep en die nuus. Niks kan jou red nie.
Net die genadedood.
Ek roep vir Tessa - die produk van jou verhouding met ons
Botswana bure se brak - en ons gaan sit op die stoep. Terwyl ek
oor Tessa se gladde vel streel raak ek sommer van vooraf
hartseer en Tessa vang die trane met haar nat tong op.
Ons kyk oor die amper-groen grasperk, oor die tuinmuur na die
oop veld, waar ons naweke gaan stap het. Ek onthou hoe jy soms
weggeraak het in die lang gras, omdat jy nie altyd kon byhou nie.
En hoe ons gespot het, dat ek en jy dieselfde talent vir sport
het – altyd laaste. En dat ons jou moes gaan haal, omdat jou
half-dowe ore nie kon bepaal uit watter rigting ons jou naam
roep nie.
Ek mis jou lomp lyf. Maar ek sal nooit vergeet hoe jy soms met
‘n kinderlike opgewondenheid kon opspring en hardloop. Sodat ons
kon lag vir jou en die ‘te-baie-lippe’ wat heen en weer skud,
namate jy vinniger geword het.
Mense het geskrik vir jou. En was bang. Soos toe ons vir jou die
hele pad vanaf Windhoek na Pretoria gekarwei het. Ook op die
agtersitplek van ons Jetta. Destyds was dit nog die wit een.
Petroljoggies het met lang uitgestrekte arms by die tenk probeer
bykom, terwyl hulle eintlik donker velle bleek was van angs. Ons
het stilletjies geglimlag. Die ouens by die grens het nie eers
in die ‘cross-border-permits’ belanggestel nie. Jy was werklik
yslik groot. ‘n Bielie van ‘n bul. Maar jou hart piepklein.
Daar was dae waar ek die moer in was vir jou. Soos as jy sommer
net teen die potplant in die sitkamer gepiepie het. Of as jou
lang slymerige speeksel (wat amper tot by vloer gehang het)
orals op die blink vloer gedrup het. En elke keer teen alles
opgevlieg en vasgeplak het, as jy besluit het, dat dit tyd is om
jou kop te skud. En wat my tot waansin gedryf het, is wanneer ek
vir jou UIT gesê het en jy in die teenoorgestelde rigting begin
draf het.
Nee, kom terug. Hierdie kant toe.
Ek mis jou stoutighede. Ek wens jy kon vir net nog een keer die
sproeier van die tuinslang skelm stukkend kou.
Jy was mal oor die swembad se geborrel. Ons het jou soms
dopgehou hoe jy langs die swembad staan en jou kop so skuins
draai, sodra die Kreepy Krauly begin suig het.
Elke nou en dan het ons in die middel van die nag wakker geword
deur jou en Tessa se ‘Song for the Moon’. Julle het sò lank
aangehou, totdat een van julle wakkergeskrik het. En dan het ons
het giggelend omgedraai en weer aan die slaap geraak. Jou
‘ek-wil-innie-huis-kom-seblief’ deuntjie voor ons
slaapkamervenster was genoeg om enige iemand se hart te smelt.
En jou ‘ek-wil-met-jou-speel-seblief’ blaffie het jou
hardwerkende baas in ‘n baljarende kleuter verander.
Jy was presies 9 jaar, 1 maand en 4 dae oud. Vir 7 jaar lank was
jy deel van ons lewens.
‘n Opreg geteelde Bull Mastiff (met ‘n stamboom wat skrik vir
niks – Loxodontan Bevan was u edele se naam) in ‘n doodgewone
huis.
En nou moes ons sò skielik afskeid neem.
©
Honne-se-nonna (Claudia Höpfner) –
20 September 2005
 |